Vul proteïen in die winter aan en verbeter kondisie

Apr 2, 2024 | Cattle

Molatek Dryveld 46 is ’n ekonomiese winterlekaanvulling vir vleisbeeste. Die produk bied verskeie voordele, soos verbeterde prestasie, goeie liggaamsgewig, stimulering van die eetlus, en beter en meer inname van droëmateriaal.

Lekaanvullings is sinvol uit ’n voedings- en ekonomiese oogpunt. Die geld wat in aanvullende voeding belê word, verdien dividende in die vorm van verhoogde besettingspersentasies en ook gesonder en swaarder kalwers met speen. Die besettingspersentasie van verse verbeter en ouderdom met eerste kalf verlaag – wat groot ekonomiese voordele is. Koeie moet reeds binne die eerste 21 dae van die dektyd dragtig raak. Vir elke siklus van 21 dae wat dit langer duur om dragtig te raak, sal die koeie se kalwers met speen 15 kg ligter wees. Koeie wat vroeg dragtig raak, het ’n langer hersteltyd voor hul volgende kalf, wat gunstig is vir liggaamskondisie en melkproduksie ná kalftyd. Kalwers bereik dan ook gouer die regte teikengewig vir speen. In die winter (somerreëngebied) is die verteerbaarheid van weidings swak en die proteïeninhoud daarvan baie laag (3% in suurveld en 6% in soetveld). Molatek Dryveld 46 (reg. nr. V20820, Wet 36 van 1947) is só geformuleer dat koeie voldoende weiding kan inneem om nie net in onderhoudsbehoeftes te voorsien nie, maar ook kondisie kan bou en handhaaf.

Beeste se kondisie word verbeter deur die gebruik van Molatek Dryveld 46. Hierdie produk kan as ’n onderhoudslek toegedien word of met graan gemeng word vir ’n produksielek.

HOEKOM ’N WINTERLEK?

Die doel met ’n winterlek is dat die dier minstens 150-230 g proteïen per dag uit die lek sal inneem. Die inname van winterlekke is egter te laag weens ’n hoë soutinsluiting om hierdie doelwit te bereik. Voldoende, maklik benutbare energie in die vorm van melasse is met die proteïen in Dryveld 46 gekombineer om te verseker dat die proteïen doeltreffend deur die mikrobes in die rumen benut kan word. Dit maak ook Dryveld 46 smaaklik genoeg om voldoende inname te verseker. Die proteïen wat verskaf word, bestaan hoofsaaklik uit proteïenstikstof (NPN), wat die inname van droë weiding en vertering verbeter.

Dryveld 46 word ook aanbeveel by afgeoeste mieliereste. Oor die eerste twee tot drie weke is ’n taamlike hoeveelheid mielies nog op die land beskikbaar, en saam met Dryveld 46, wat danksy sy smaaklikheid in genoegsame hoeveelhede ingeneem word, word in alle voedingsbehoeftes voorsien. Dit is noodsaaklik dat ’n vers en eerstekalfkoei die korrekte kondisie bereik wat sal verseker dat sy suksesvol gedek word. Indien sy nie die korrekte kondisie of gewig met dektyd bereik nie, is dit ’n regstreekse verlies van ’n kalf, asook die koste om die dier vir nog ’n jaar op die plaas te moet dra. Die verkoop van oorslaankoeie is uit die oogpunt van vrugbaarheid en finansies die beste keuse.

Voorkom lae kalfpersentasies by koeie deur voldoende fosfaat in die somer te verskaf met Molatek Foslek (reg.nr. V16059) of Fosblock (reg.nr. V22502) teen 120-240 g/bees/dag. Verse kan ’n maand voor die res van die kudde al by die bulle gesit word sodat hulle ’n langer hersteltyd sal hê voor hulle die tweede keer gedek moet word. Gee verse in die winter Molatek Kondisie-lek (reg.nr. V17730) teen 600-800 g/bees/dag. Lekinnames sal wissel na gelang van ’n koei se liggaamsgewig en die gehalte van die beskikbare weiding. Dryveld 46 kan teen 400- 500 g/bees/dag verskaf word as ’n onderhoudslek, of dit kan met graan gemeng word om ’n produksielek te maak. Daarvoor kan 50 kg Dryveld 46 en 50 kg mielies gemeng word en teen 1-1,2 kg/bees/dag verskaf word.

VOORDELE

Molatek se lekaanvullings op droë weidings hou heelwat voordele vir die boer in.

■ Dit stimuleer diere se eetlus, wat tot die inname van meer droëmateriaal lei.

■ Dit stimuleer die vertering van swak ruvoer en weiding omdat die produkte proteïen bevat wat die fermentasieproses deur mikro-organismes in die grootpens stimuleer.

■ Dit bevat NPN, wat bydra om die dier se eetlus en dus kondisie te verbeter en ’n belangrike funksie vervul om besetting te verhoog.

■ Dit verbeter die prestasie van beeste op droë weidings, en handhaaf en verbeter liggaamsgewig, wat tot verhoogde kalfpersentasies, korter tussenkalfperiodes en swaarder speengewig by kalwers lei.

■ Dit het lakserende eienskappe wat droë galsiek help voorkom.

 

Dr. Vlok Ferreira is nasionale tegniese bestuurder: herkouers by Molatek.

Get to know your technical advisors

Contact us for expert advice

Technical support for farmers ensuring good relationships to drive demand through co-ops.

No internet connection.Waiting to reconnect...