Voerkrale vereis dié soort kalwers

Apr 1, 2024 | Cattle

Om rooivleis volhoubaar te produseer, sal dit doeltreffender geproduseer moet word. Boere moet die regte soort kalf vir voerkrale produseer deur die nuutste tegnologiese hulpmiddels, teelmateriaal en -metodes te gebruik.

 

Vele faktore het ’n invloed op ’n voerkraal se gewilligheid om ’n bees te koop.

Beeste se voerkraalprestasie word deur verskeie faktore beïnvloed. Die regte soort kalf is baie belangrik. Die mark verkies meestal mediumraamtipes vanweë die grootte van die snitte en omdat die karkas makliker hanteer. Vir ontbeende snitte word grootraam-, laatryptipes verkies. Sulke diere se vleis-tot-beenverhouding is beter, dus is die verwerkingskoste per kilogram vleis laer. Laatryp diere is ook winsgewender vanweë ’n negatiewe koopwaarde en positiewe voermarge. Die gewig waarteen diere gekoop word, is belangrik. Kalwers onder 190 kg pas gewoonlik voedings- en gedragsgewys die moeilikste in voerkrale aan. Hul aanpassingsvermoë kan deur raamtipe, ouderdom en kondisie beïnvloed word. Gewig speel ook ’n rol by die koopsom, want hoe swaarder die dier is, hoe groter is die kapitaaluitleg en rentelas. Swaarder diere word gewoonlik vinnig afgerond omdat minder gewig toegevoeg word. Met ’n negatiewe voermarge is dit voordeliger om swaarder diere met ’n positiewe prysmarge aan te koop.

Geslag beïnvloed aankope omdat vroulike diere stadiger as osse, en osse stadiger as bulle groei. Gemiddeld is daar sowat 30% verse in ’n voerkraal. Slegs diere wat wel manlike eienskappe gaan ontwikkel, word gekastreer. Horings word geknip om beserings tydens bemarking te voorkom. Kondisie speel ’n groot rol by aankope omdat dit die lengte van die voertydperk direk bepaal. Kalwers kan in drie groepe – vet, medium en droog – verdeel word. Hoe vetter die kalf, hoe korter gaan hy in die voerkraal staan.

Kalwers met vet aan is gewoonlik direk van die koei gespeen en aan die voerkraal verkoop. Pas gespeende kalwers ervaar dikwels stres en word maklik siek. Speentyd val meestal saam met die verandering van die seisoene of die winter, wat probleme vererger. Dié punte by ’n bees is die belangrikste vir sy kondisietelling:

■ Voorkoms van vet by die stertwortel.

■ Verdikking in die lies wat op vetaanpakking dui.

■ Voorkoms van vetaanpakking in die bors. By gehalte word die klem op bespiering geplaas. Hoe beter die gehalte, hoe beter die prestasie en hoe hoër is die wins per dier. Let op dat goeie kondisie op die oog af soos spiere kan lyk. Die koper kan hiér vir bespiering kyk:

■ Die onderste deel van die voorbeen net bokant die knie. Hier kom baie min vet voor, selfs by vet diere.

■ ’n Breë borsvloer. Breedte in die borsvloer dui op algehele spierontwikkeling met slag.

■ Die beenstruktuur (been-totvleisverhouding) van die dier.

PRAKTIESE WENKE

■ Voerkripontwerp moet maklike toegang verseker aan die bees wat daaruit vreet, asook die persoon wat die diere voer. Kripspasie per bees moet 15-20 cm wees.

■ Diere moet reeds op vroeë ouderdom (sowat 3-5 maande oud) onthoring word sodat hulle mekaar nie pla as hulle vreet nie.

■ Die kraaloppervlakte moet 10-15 m2 per bees wees, met voldoende helling vir die afloop van water. Die deel voor die voerkrip moet groot genoeg wees dat die bees maklik genoeg kan vreet.

■ In droë wintermaande kan meer diere per kraal aangehou word om die kraal effens nat te hou met mis en urine. Veral in winderige toestande belemmer stof die groei en prestasie van diere en lei ook tot ’n toename in siektes.

■ Diere moet te alle tye toegang tot koel, skoon water hê. Waterkrippe moet daagliks skoongemaak word. UITGROEI Met ’n negatiewe voermarge is dit vir boere die moeite werd om kalwers eers swaarder te laat uitgroei voordat hulle in die voerkraal afgerond word. Voerkoste verlaag omdat die voerkraaltydperk met uitgroei verkort. Waar veral ligte kalwers vanaf speen op veld uitgroei tot gereedheid vir die voerkraal, bekamp uitgroei produksieverliese wat gewoonlik met swak aanpassing gepaard gaan.

 

Dr. Vlok Ferreira is die nasionale tegniese bestuurder: herkouersby Molatek.

Get to know your technical advisors

Contact us for expert advice

Technical support for farmers ensuring good relationships to drive demand through co-ops.

No internet connection.Waiting to reconnect...